fbpx

Sign In

Verified Listing

Inquire Now

Preferred contact method

PIETER MARCATO | BESPREKINGS – 082 567 2792 Entertainment, Events, Live Shows

Pieter Marcato is ’n gevestigde Suid-Afrikaanse sanger, musikant, liedjieskrywer en musiekvervaardiger. Hy is al sedert 2008 in die musiekbedryf doenig en is ook die stigterslid van Legato Records, wat saam met verskeie bekende kunstenaars werk.

Buiten vir sy solo-loopbaan wat in 2019 afgeskop het, is dié Pretorianer ook lid van twee suksesvolle musiekgroepe, Marcato en EON, saam met wie hy al die land aan die brand gesing het. Sy tweede enkelsnit en musiekvideo, Swipe Regs, is pas vrygestel en word reeds deur ’n paar radiostasies gespeel.

Pieter het in Pretoria grootgeword, waar hy vandag nog saam met sy vrou (Karin) en dogtertjie (Amila) woon. Na skool het hy deur Damelin klankingenieurswese studeer, waarna hy in 2008 ook ingeskryf het vir sy LLB-graad. In hierdie tyd, het sy pad met Ben van Zyl gekruis. Kort daarna het hulle besluit om saam Marcato te begin en het hy sy studies gestaak om sy musiekdroom te volg.

Oor die jare was hy ook deel van verskeie groot musiekproduksies, waaronder die Simon and Garfunkel Tribute Show, Bob Dylan Tribute Show en die ACDC Tribute Show, wat almal verskeie jare opgevoer is. “Musiek is in alle opsigte deel van my lewe en ek is in my element wanneer ek die passie aan ander mense kan oordra – in watter vorm dit ookal mag wees. Dit is een van die dinge wat mense bymekaar kan bring en dis vir my ’n eer om deel te wees daarvan,” verklap hy oor sy loopbaan sover.

In 2017 het Pieter, saam met sy vriende Altus Theart (Getroud Met Rugby) en Jerry Spangenberg die alternatiewe popgroep, EON, begin. Dié groep het reeds ’n baie groot aanhang en hulle debuut-enkelsnit, Bittersoet, was dadelik ’n treffer. Ligjare, hulle eerste album, het sedertdien verskeie ander gunstelinge opgelewer en die trio is deesdae ’n bekende gesig by die meeste groot musiekfeeste in die land.

Omdat hy al vir baie lank liedjies vir Marcato en EON skryf, het hy besluit om ook vir homself materiaal te skep vir sy solo-loopbaan. As Jy Vra, het in 2019 die lig gesien en is baie goed ontvang. Tans is hy besig om aan nog oorspronklike materiaal te werk vir sy solo-optredes en –album.

Pieter Marcato beskryf homself as iemand wat daarvan hou om vriende te maak en wat graag saam met sy geliefdes kuier as hy ’n kans kry. Volgens hom, put hy baie van sy inspirasie uit sy eie ervarings en emosies wanneer hy musiek skep en dit is ook graag wat hy aan gehore wil oordra.

As hy ’n ander loopbaan moes kies, sou hy graag ’n prokureur wou wees, omdat dit iets is waarin hy al baie lank belangstel. Ervaring het hom ook geleer dat sukses nie maklik is nie en dat die verhoudings wat jy in die musiekbedryf bou van onskatbare waarde is.

Francois van Coke word uitgesonder as sy grootste plaaslike rolmodel in die vermaakbedryf, terwyl Kevin Hart op internasionale front uitstaan. Hy sal ook nog eendag graag saam met Francois wil werk en het baie respek vir wat hierdie kunstenaar al bereik het.

Pieter Marcato het voorwaar baie ysters in die vuur, maar dit is juis as gevolg van harde werk, passie en deursettingsvermoë wat hy dit kon regkry om vir homself ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oop te kerf.

Hy het nog baie planne en drome vir die toekoms en kan nie wag om dit met aanhangers te deel nie.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/PieterMarcato/?ref=page_internal

Instagram: @pietermarcato

Twitter: @pietermarcato

PUBLISITEIT & BEMARKING: STARBURST PROMOSIES

Alishia van DeventerSel: 083 635 4717

E-pos: alishia@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za

Video

Add Review

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Service
Value for Money
Location
Cleanliness